DALENE
kwartaal 2
portret van iemand wat 'n impak op my lewe gehad het:
Hoekom Dalene?
Dalene Titus is ons huishulp wat vir 12 jaar by ons gewerk het...maar sy het baie meer gedoen as drie deurmekaar kinders se kamers help aan die kant hou. Dalene het deel van my lewe geraak op 'n baie jong ouderdom en is letterlik soos 'n tweede ma, suster en vriendin vir my. Sy inspireer my deur haar positiewe ingesteldheid, die liefde wat uit haar binneste uit straal en die manier wat sy elke geleentheid wat sy kry met twee hande aangryp. Dalene het in die tyd wat sy by ons was aandskool toe gegaan en klere stryk met opstelle skryf gebalanseer om haar matriek klaar te maak. Daarna het sy verdere opleiding en kursusse in noodhulp voltooi. Sy het ook geleer om kar te bestuur en haar lisensie gekry.
Sy het verder gegaan om haar ambulanslisensie te kry, en het nagskofte deurgery met 'n halftydse werk by die hospitaal. Nie net is haar hardewerk, ingesteldheid en sukses iets om na op te kyk nie, maar haar liefde vir ons gesin en haar ondersteuning in my lewe is werklik ongelooflik. Sy het my hokkie- en dansoefeninge toe gery in haar kenmerkende rooi karretjie, saam met ons christmas-beddens gemaak voor die TV wanneer my ouers uitgaan en nooit opgegee met my klere wat op een of ander manier altyd op die vloer opeindig nie. Sy is 'n ongelooflike mens en die lig wat uit haar straal is iets om na te streef. Sy het na 12 jaar geld bymekaar geskraap om 'n huis te bou in die Kalahari en ook 'n pos gekry daar - by haar seun en familie, waar sy groot geword het. Sy het teruggekeer huis toe, maar haar altyd glimlaggende gesig word nog steeds elke dag gemis.
KOMPOSISIE
Ek het besluit om Dalene se gesig uit te beeld terwyl sy wegkyk, want dit weerspieël haar persoonlikheid beter - sy is glad nie iemand wat altyd in die spotlight wil wees nie. Ek wou haar graag uitbeeld met die Kalahari se duine in die agtergrond, omdat dit is waar haar hart werklik lê.
Ek hou van die dromerige uitdrukking op haar gesig en hoe 'n mens amper kan sien hoe sy wens om die Kalahari-sand tussen haar tone te voel. Haar gesig val in die donker skaduwee, en sy staar verlangend na die goue dele. Ek het die komposisie so aanmekaar gesit dat die agtergrond amper deurslaan; dit visualiseer vir my hoe die plek werklik deel van haar is, en die gemsbokkie op haar bors is soos haar hart wat tussen die duine is. Dit is vir my 'n goeie beeld van wie sy is en waaruit sy bestaan, en weerspieël ook perfek haar liefdevolle oë.
FINALE PRODUK
No comments:
Post a Comment